|
|
| Rooi-oog
vir reg korrel |
Een van die grootste frustrasies in die jagveld is om
uit te vind dat 'n geweerteleskoop nie reg ingestel is
nie en dat 'n mens nie meer skiet waar dit korrel nie.
Dikwels kom die jagter dit eers agter na verskeie mis-
of kwesskote. Dit kan hom baie kos - veral as hy vir 'n
gekweste bok moet betaal wat nie opgespoor kan word nie.
Wat nou gemaak? Om in 'n kaliber-rigmiddel
("bore
sight") te belê - die soort wat 'n mens in die
loop druk - is nie altyd die oplossing nie. Ek het dikwels
gewere op die manier ingestel en dan tot my verbasing gevind
dat my korrel steeds 'n hele 300 mm op 100 m uit is.
Die rigmiddel kan nie wys waar 'n geweer sal tref nie.
Die enigste toestel wat dit beter as enige ander rigmiddel
kan doen, is onlangs in Suid-Afrika bekendgestel. Na ek
dit getoets het, is ek oortuig dat daar eindelik 'n manier
is om 'n geweerteleskoop in die jagveld te toets en met
redelike sekerheid te verstel.Dit is juis om die rede dat
die Red-i-laservisier oorsee soveel aansien verwerf het.
Dit Iyk soos 'n 30-06 patroon. Voor in die "koeël" is
'n laserlig wat aanskakel as dit in die 30-06 gelaai word.
Sodra die grendel toe is skyn die laserlig na die teiken.
Al wat die skut dan hoef te doen, is om deur sy teleskoop
te kyk en die kruisdrade so te stel dat dit die rooi laserkolletjie
kruis.
As die jagter die regte ammunisie
gebruik, behoort sy koeël te tref waar die rooi
kolletjie is. Dit is egter nie so maklik nie. Ek het
twee 30-06 gewere wat op 100
m ingestel is met die Red-i getoets en die kruis en die
kolletjie het nie op dieselide plek gesit nie.
My toets het gewys dat 'n mens nooit 'n toestel kan maak
wat die noodsaaklikheid om 'n teleskoop in te skiet, uitskakel
nie. Die voordeel van die Red-i is dat dit die jagter in
staat stel om op die skietbaan 'n laserlesing op 25 m te
neem met die ammunisie waarmee hy gaan jag. Hy kan merk
waar die rooi kolletjie skyn in verhouding met die middel
van die teiken waarop hy mik. In die jagveld sit hy 'n
teiken op en mik op 25 tree daarna.
As die rooi kol nie op dieselfde plek skyn nie, stel hy
net sy teleskoop tot die kol op dieselfde plek is as toe
hy sy geweer op die skietbaan ingestel het.
Die prys vir 'n Red-i verskil van kaliber tot kaliber.
Die 30-06 wat ek getoets het, sal die jagter ongeveer R600
kos.
Publication: Landbou Weekblad 3 Augustus 2001
Article: Jag en gewere - pg 55
Author: Lucas Potgieter
|
|
 |
|